Vrydag: 24 Oktober 2008
Die eerste maal wat ek van Groot Toren gehoor het was toe ons in Duitsland was en Rohan sy blog geskryf het oor hulle naweek in die wonderlike plek en 4×4 roete in die Riviersonderend berge naby McGregor. Die foto van die Klipspringer Lodge (ek het nie toé geweet dis die huisie se naam nie) het my onmiddellik aangegryp. My liefde vir die berge, en hierdie huisie wat so alleen bo-op die berg staan, het my dadelik laat liries raak. Dit is (vir my) hoe ‘n wegbreek plekkie moet lyk! Bo in die berge, alleen of saam met jou geliefde en die wye natuur rondom jou. En dit net van ‘n prentjie af!! Hoe sal ek nie die ware jakob ervaar nie?
Rohan en Eldré se uitnoding kort daarna dat ons en Linda saam met hulle Groot Toren toe moet gaan vir ‘n naweek aan die einde van Oktober word dadelik aanvaar.
En so breek 24 Oktober 2008 aan. Ek kon nie wag dat die tyd verby moet gaan nie. Ons hou die weer dae voor die tyd dop om voorsorg te tref vir enige ding. Die voorspelling vir Vrydag aand vir McGregor is 2°C maar die aanvoelbare temperatuur blykbaar -4°C. Die Fortuner word gelaai dat daar nie plek is vir die spreekwoordelike muis nie. Gewapen met genoeg warm goed om die aand deur te sien, vertrek ons so teen 15:00 uit Durbanville. Vandag gaan ons die berge haal voor die donker ons vang.
Daar staan reeds ‘n tent of drie in die kampterrein – nog mense wat hierdie 4×4 roete wil verken. Toevallig is daar ook bekendes. Eldré teken sommer self in en neem die sluitel. Ons is haastig om bo te kom. Na ‘n vinnige oor en weer groetery vertrek ons.
Net binne die ingang moet die Fortuner se wiele eers afgeblaas word. Dit is koud buite! Die wind waai sterk! Nie te lank nie en ons is weer op pad. By punt A kry ons die kortpad na Klipspringer Lodge
En dan is ons daar….. wat ‘n pragtige huisie – kan nie wag om te sien hoe dit binne lyk nie! Ons val uit die Fortuner… die een haastiger as die ander! Hoe pragtig is dit nie van hier bo af nie! Maar o wee…. dit is ysig koud! Die vuur sal nou vinnig moet aangesteek word. Ons is almal dankbaar dat ons vannag ‘n dak oor ons koppe het en nie in die buitelug hoef te kamp nie.
Ek verstom my aan die netheid van die plek. Dis skoon, en prakties, en daar is alles wat jy wil he om gerieflik te bly. Daar is sonkrag wat genoeg lig verskaf in die aand! En gas om die water te verwarm. ‘n Yskassie om die kos koud te hou en lekker beddens vir ons 5 met duvets en lekker dik komberse om jouself in toe te rol. Hier kan ek myself verloor. Behalwe vir die wind wat waai is daar niks verder as die fynbos en ongerepte natuur nie.
Ons pak vinnig vuur aan en maak onsself gerieflik. Die “winter-woollies” is uit die tas gepluk en aangetrek. Die vuur maak dit gou-gou lekker warm in die huisie, en sit ons snoesig met ‘n glasie rooiwyn in die hand en kuier. Hoe wonderlik om uiteindelik hier te kan wees. Natuurlik braai ons vleis… met lekker aartappels en patats wat in die vuur gebak is. En toe daag ons eerste “besoeker” op: Strepies, die veldmuis, kom groet. Sy’s vinnig hoor…. ons het nog net gedink om haar te verjaag, dan is sy uit by die gat waar sy ingekom het. En so gaan dit deur die aand. Sy kom en gaan vinniger as wat ons kan beweeg.
Heelwat later, lekker loom gebak deur die hitte, en vol magies, maak ons die beddens reg. Fred, Linda en ek slaap sommer so voor die vuur, en ons stook dit behoorlik voor die ligte afgesit word. Lekker toegewikkel in die beddegoed, slaap ek heerlik.
Saterdag: 25 Oktober 2008
Vroeg die volgende oggend begin ons beweeg. Dit is warmer as gister. Erhardt het laat weet dat hy, Velma en Eberhardt, saam met ons op die 4×4 roete wat ons vandag gaan aandurf, wil ry. Hulle is teen 8:30 by ons. Die ander mense wat sou saamgaan daag nie op nie (gisteraand se koue het seker sy tol geeis… of is dit miskien dit wat die koue moes wegneem, wat sy tol geeis het?) Teen 9:15 vat ons die pad.
Die 24 km sirkelroete is omtrent 4 uur lank, maar ons stop baie langs die pad. Hoe beskryf ek die omgewing? Sover as wat ons ry word die gedagte in my al sterker dat ‘n fynbos skilder of -fotograaf in hierdie berge genoeg werk (kan mens dit so noem?) sal he om ‘n leeftyd te hou! Hier is net soveel verskillende plante wat wedywer met mekaar om gesien te word. Die meeste Proteas het klaar geblom, maar daar is soveel ander blomme dat al se ek ook wat, ek dit nie sal kan beskryf nie. En natuurlik, dit wat vir my baie belangrik is, die berge om ons. Die absolute wonder – die skoon lug wat ons inasem – die grootsheid van alles! En dan besef mens net weereens hoe groot ons God is – alles is so in harmonie met mekaar!
Die roete laat my nogal baie dink aan die Grimsel Pass wat ons in Switserland gery het. Al verskil is dat daardie pad geteer is.
Daar is verskeie piekniek plekke op die roete waar ons stop en alles om ons indrink. Dan sien mens die baie ou klein plantjies wat hul blommetjies uitsteek om ook raakgesien te word. Dis die mooiste fynbos, met die pragtigste kleure denkbaar. Op die hoogste punt (1000 m) het ons middagete ge-eet. Dit is by die Goudgat: