2008 lê op sy rug. Nog ‘n paar stuiptrekkings en nog ‘n jaar is verby. Vir altyd verby. En vandag is dit presies ‘n jaar gelede dat ek ABSA se stof finaal van my voete afgeskud het. ‘n Wens wat waar geword het in 2007 en ‘n baie groot voorreg!

Dit was ‘n jaar vol hoogtepunte. ‘n Tyd waarin ek dinge kon doen wat ek nooit geglo het sal ooit gebeur nie. ‘n Tyd waar vergete drome bewaarheid is. ‘n Tyd wat te vinnig verby is.

Nooit is ‘n lang tyd. En dit is wat ek gedink het: ek sal nooit vir Marli en Walter oorsee kan gaan kuier nie, of ooit oorsee kan gaan nie. Nooit Switserland met sy Alpe sien nie. Juis daarom was ons verjaardag geskenke van ons kinders af, in die vorm van vliegtuigkaartjies Duitsland toe, ‘n baie, baie groot en wonderlike verrassing! “Wees versigtig vir wat jy wens” is die gesegde…. dis weereens as ‘n feit bewys.

Die eerste 5 maande van hierdie jaar was baie besig. Dit was heerlik om so reëlings te tref. Vir mense wat gereëld oorsee gaan, is dit seker maar net nog ‘n vakansie. Vir my was dit iets nuut. Het nie besef daar is so baie dinge wat gereël moet word, en so baie goed waaraan aandag gegee moet word nie. Die grootste probleem natuurlik om paspoorte te kry. Die ure se gestaan by Binnelandse Sake. Die gesoek na genoeg mediese versekering. Maar dit alles was aan die einde van die dag ‘n wonderlike ondervinding. En het ek die uitdaging wat ek aan myself gestel het gedurende hierdie tyd, tot uitvoer gebring. En net voor ons vertrek ‘n besoek van Mark om te kom groet, wat vir ons baie beteken het.

Ons het wonderlike ondervinding en wonderlike ervarings gehad in die 3 maande in Duitsland saam met Marli en Walter. Ons het Kersfees in Junie gevier, en Marli se verjaardag vir dae aanmekaar gevier. Ons het Kent en London besoek, baie plekke in Duitsland besoek, en deur Frankryk gery op pad Switserland toe. Die belewenis om die Alpe in al sy grootsheid te aanskou, daarop te loop, te ry, en daaroor te vlieg, was wonderlik. Die paragliding bo Interlaken ‘n ondervinding wat ek nooit, ooit sal vergeet nie! Ons het met die vinnige trein en die stadige treine gery, ons het die Duitsers en hul taal en gewoontes ervaar, op eie stoom later die openbare vervoer aangedurf, kilometers op ‘n dag gestap en baie bier gedrink en “apfel strudel” geëet. En ‘n “strassenfest” bygewoon. Ons het die katte en al hul maniertjies geniet, en urelank probeer om Tigi se vertroue te wen. Die Cologne Katedraal was ‘n hoogtepunt en die klim van al daai trappe tot heel bo. En moenie die sjokolade vergeet nie. Ag, daars te veel om op te noem.

Die lekkerste was die heerlike kuier met die kinders. Die baie ure se gesels. Om te ervaar en met eie oë te sien hoe hulle leef – hul werkplekke te sien. Selfs van hul kollegas ontmoet. Om weer te kan voel dat ek tog nog iets vir hulle kan doen – al is dit net bietjie kos maak en hier en daar huis aan die kant te maak. Om hul liefde weer eerstehands te ervaar. Dit was wonderlik.

Maar toe die afskeid. Ons moes terugkom huis toe. Afskeid was nog nooit my sterk punt nie. Om in daardie laaste paar uur te maak asof niks gebeur het of gaan gebeur nie…. om nie my ware gevoelens te probeer wys nie, maar diep binne in my vas te hou…. dis geen maklike taak nie. Ja, ons gebruik die geykte “totsiens”, maar vir elkeen wat die woordjie gebruik beteken dit iets anders. Die hartseer groei later so vas aan jou dat jy dit moeilik verwerk.

Ons dankbaarheid aan julle wat dit vir ons moontlik gemaak het loop oor. Hoe kan ‘n mens dankie sê vir so ‘n groot voorreg. En dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader wat ons veilig bewaar het, en veilig terug gebring het huistoe. Ons dankbaarheid is ook groot dat niks of niemand ons huis en besittings geskaad het gedurende die 3 maande nie. Die blydskap groot om weer vir Rohan en Eldré te sien, en die familie en vriende wat naby is.

Die laaste 4 maande was gekenmerk deur verskillende dinge.

Lekker uitstappies saam met Rohan en Eldré met die Fortuner. Kuiertjies saam met hulle en dierbare vriende en familie wat vir ons baie beteken. Siektes en klagtes en… die swart hond. Fred wat weer skielik in die hospitaal beland het en nog stents moes kry. Onsekerheid oor sy gesondheid.

Kersfees het gekom en gegaan… dankbaar om dit weereens saam met Rohan,Eldré en Linda te kon deurbring, en nou staan ons voor ‘n splinternuwe uitdaging. ‘n Wonderlike nuwe jaar. Volgens alle voorspellings gaan 2009 nie ‘n maklike jaar wees nie. Maar as mens jou aan voorspellings moet steur, gaan jy nie gelukkig bly lewe nie.

Nuwejaars voornemens is nie deel van my samestelling nie. Want elke dag moet eintlik ‘n nuwejaarsdag wees.

Ek glo dat ‘n mens net 2 keuses het: of jy gaan die nuwe jaar binne mét geloof in die Here, of daarsonder. As ek met geloof die nuwe jaar tegemoet gaan, hoef ek my nie daaroor te bekommer nie. Dan besluit ek om elke dag te lééf, want dit is wat ek het. Aan gister kan ek niks verander nie, en van môre is ek nie seker nie. Daarom moet ek elke dag neem en die beste daarvan maak. Om gelukkig te wees in jouself is wat belangrik is. Ralph Waldo Emerson het gesê: What lies behind us, and what lies before us, are tiny matters compared to what lies within us”

Dis egter die toedien van hierdie medisyne, wat so maklik in woorde uitgedruk word, wat nie altyd maklik gesluk word nie. Dis wanneer jy skielik jou glas half leeg vind, dat dinge begin verkeerd loop. Dan moet jy kan droom, want…..

“If you have a dream…
don’t wait for some distant day to come.
It may be to late before you’ve even begun.
Not everyone will agree with all you decide –
Be true to yourself first and foremost.
The only important thing in life is what you do with the time you spend here on earth.
Don’t be afraid to follow your desires,
they are not silly nor selfish.
Take the time to do what makes you feel alive.
Leave your fears and regrets in the past,
for this is where they belong.
Don’t cloud today with things that can’t be undone.
You have no more control over yesterday or tomorrow
than you do the raging of your passions.
Do not quiet your dreams nor quench your desire.
For if you do, your journey is ended.
You have only today to begin anew and follow your dreams.
For in the end all we have are our memories.
When the twilight comes to us,
let there be no excuses, no explanations, no regrets!”
~anonymous~