Category: 4X4 Wegbreke


SNEEU….. in November….. in Suid Afrika???  Nou het ek ALLES gesien!!!

Ek laat my sowaar oortuig om saam te gaan op die 4×4 roete in die Matroosberge.  Ek en Fred is vroeg aan die roer en net voor 8 stop ons by Rohan en Eldre se huis.  Die Fortuner staan reeds en idle….  Eldre ry nie vandag saam nie.  Dis net ons 3 en dan ontmoet ons vir Erhardt, Ehrica en Eberhardt in Ceres.

Ook maar goed dat ek nie vroegoggend al reeds geweet het wat op my wag nie.  Ek wonder of ek wel sou gegaan het…. maar nou dat ek dit wel beleef het, is ek baie bly dat ek wel deel was van hierdie dag.

Op die plaas, Erfdeel, waar die roete gelee is, aangekom word die wind uit die wiele gelaat, en vertel almal wat daar rondstaan hoe straf die roete is.  Die Kaap het mos verlede week onder erge storms deurgeloop, en so ook die Matroosberge.  Rohan en Erhardt besluit om te ry… ons is dan nou hier… en indien die pad regtig so onbegaanbaar is, sal hulle ‘n besluit neem om aan te gaan of om te draai.  So gese, so gedoen.

Sommer nog hier aan die onderent van die berg is daar al dongas in die pad:

Die diep sloot waar eens pad was.

Die diep sloot waar eens pad was.

As alles goed gaan wil ons graag ry tot op die top van die berg… die hoogste piek is 2249m – dis ook die hoogste piek in die Boland.  Die pad is egter maar sleg…. en ek het gou-gou geleer om maar liewer nie na die pad te kyk nie, en het kort-kort ‘n skietgebedjie opgestuur.  Terwyl Rohan en Erhardt die stryd met die klippe en dongas aanse, en ek my afsny van die pad, geniet ek die natuur en die berge – en ek neem fotos. 

Onderlangs is daar baie proteas, maar hoe ho-er ons opgaan hoe minder plantegroei is daar, tot daar later net klip is.  Die sand wat tussen die klippe was wat die pad gevorm het, moes seker als weggespoel het, want daar is orals net rotse en klippe.  Ek moet regtig vir Rohan en Erhardt geluk wens met hul hantering van die voertuie.  Hulle was voorwaar fantasties.  Ja, die Fortuner sowel as die Jeep, het met krappe en duike van hierdie berg afgekom.  Ek is glad nie ‘n 4×4 entoesias of kenner nie, maar hierdie trippie het my oe laat oopgaan.  En dan moet ek erken dat ek nie sou gegaan het as ek vooraf geweet het nie. 

Die Matroosberge en Ceres is mos bekend vir sneeu in die winter, en elke jaar stroom die mense daarheen om te gaan sneeu kyk, of te gaan ski.  As ek egter so na die hange van hierdie berg kyk, en ek visualiseer die sneeu daarop en die mense wat daar ski, dan trek my maag op ‘n knop en weet ek dat dit nie iets is wat ek sal doen nie.  En dan moet die mense wat wil ski, nog teen hierdie berg op LOOP! want dan is die pad glad nie begaanbaar nie.  Nee dankie.  Ek dink dis great dat daar mense is wat dit wil en kan doen, maar dis definitief nie vir my nie. 

Ons het op ‘n paar plekke gestop om die natuur te bewonder, en die afgronde te probeer afneem, en voortgegaan met klim tussen die klippe op pad boontoe.  Net voor die heel laaste stukkie na die top, het ons weereens gestop en is daar kajuitraad gehou.  Ons moes ook wag vir ‘n voertuig wat op pad terug is van heelbo af.  Hulle vertel dat die pad boontoe maar sleg is, maar dat die uitsig alles die moeite werd maak. 

Ons sien plek-plek tussen die rotse die wit kolle.  Aanvanklik het ons gewonder daaroor want dit lyk behoorlik soos die gletsers wat ons in die Alpe gesien.  Ja, sowaar, dit is sneeu!  Ons kon dit nie glo nie.  Ons weet die berge kry elke jaar sneeu, maar dis November maand!!  Later sou ons hoor dat dit so onlangs as September daar gesneeu het (ons winter het mos lank aangehou hierdie jaar), en dat daar nog meer en dikker sneeu gele het voor verlede week se storms, maar het die baie water van dit weggespoel. 

Uiteindelik was ons bo, en kon ons by so ‘n lekker groot hoop sneeu ons worsies braai.  Daar was ‘n geniepsige windjie, maar dit was eintlik glad nie koud nie.  Die kinders het heerlik gespeel, en selfs Rohan het gaan voel presies hoe koud die sneeu is.

Rohan in die sneeu

Rohan in die sneeu

Ehrica en Eberhardt was later sopnat, maar van ophou is daar nie sprake nie.  Hulle 2 geniet die uitstappie…. en mis nie ‘n geleentheid om saam met Pa Erhardt die berge en duine aan te durf nie.

Toe het die terugtog begin.  Ons magies was vol en al die opwinding en spanning het sy tol begin eis.  Ons was almal lekker moeg.  Ek kan nie dink hoe moet so ‘n trippie die bestuurder uitput nie.  Op ‘n pad soos wat ons vandag ry, kan hy nie vir ‘n sekonde sy aandag van die pad af laat gaan nie.  Hier tel die kombinasie van ‘n goeie bestuurder en goeie motor al die punte.  Die een sal nie sonder die ander dit kan doen nie.

So 3 uur later was ons terug by basis en moes die wiele weer opgeblaas word.  Op Ceres koop ons koffie net voordat ons die pad huis toe vat.

Hierdie dag was hectic!  Dit was egter ‘n groot ondervinding.  Ek sal die angswekkende pad probeer vergeet, maar die natuurskoon nooit.  Dis wonderlik om so hoog bo die res van die wereld te wees, en alles so van bo af te kan besigtig – regtig ‘n bird’s eyeview.  Die gevoel van vryheid wat ek ervaar het daar hoog bo, kan ek nie in woorde weergee nie. 

Die berge bly die beste!!!

Vrydag: 24 Oktober 2008

Die eerste maal wat ek van Groot Toren  gehoor het was toe ons in Duitsland was en Rohan sy blog geskryf het oor hulle naweek in die wonderlike plek en 4×4 roete in die Riviersonderend berge naby McGregor.  Die foto van die Klipspringer Lodge (ek het nie toé geweet dis die huisie se naam nie) het my onmiddellik aangegryp.  My liefde vir die berge, en hierdie huisie wat so alleen bo-op die berg staan, het my dadelik laat liries raak.  Dit is (vir my) hoe ‘n wegbreek plekkie moet lyk!  Bo in die berge, alleen of saam met jou geliefde en die wye natuur rondom jou.  En dit net van ‘n prentjie af!!  Hoe sal ek nie die ware jakob ervaar nie?

Rohan en Eldré se uitnoding kort daarna dat ons en Linda saam met hulle Groot Toren toe moet gaan vir ‘n naweek aan die einde van Oktober word dadelik aanvaar. 

En so breek 24 Oktober 2008 aan.  Ek kon nie wag dat die tyd verby moet gaan nie.  Ons hou die weer dae voor die tyd dop om voorsorg te tref vir enige ding.  Die voorspelling vir Vrydag aand vir McGregor is 2°C maar die aanvoelbare temperatuur blykbaar -4°C.  Die Fortuner word gelaai dat daar nie plek is vir die spreekwoordelike muis nie.  Gewapen met genoeg warm goed om die aand deur te sien,  vertrek ons so teen 15:00 uit Durbanville.  Vandag gaan ons die berge haal voor die donker ons vang.

Daar staan reeds ‘n tent of drie in die kampterrein – nog mense wat hierdie 4×4 roete wil verken.  Toevallig is daar ook bekendes.  Eldré teken sommer self in en neem die sluitel.  Ons is haastig om bo te kom.  Na ‘n vinnige oor en weer groetery vertrek ons.

Net binne die ingang moet die Fortuner se wiele eers afgeblaas word.  Dit is koud buite!  Die wind waai sterk!  Nie te lank nie en ons is weer op pad.  By punt A kry ons die kortpad na Klipspringer Lodge            

En dan is ons daar….. wat ‘n pragtige huisie – kan nie wag om te sien hoe dit binne lyk nie!  Ons val uit die Fortuner… die een haastiger as die ander!  Hoe pragtig is dit nie van hier bo af nie!  Maar o wee…. dit is ysig koud!  Die vuur sal nou vinnig moet aangesteek word.  Ons is almal dankbaar dat ons vannag ‘n dak oor ons koppe het en nie in die buitelug hoef te kamp nie.

Ek verstom my aan die netheid van die plek.  Dis skoon, en prakties, en daar is alles wat jy wil he om gerieflik te bly.  Daar is sonkrag wat genoeg lig verskaf in die aand!  En gas om die water te verwarm.  ‘n Yskassie om die kos koud te hou en lekker beddens vir ons 5 met duvets en lekker dik komberse om jouself in toe te rol.  Hier kan ek myself verloor.  Behalwe vir die wind wat waai is daar niks verder as die fynbos en ongerepte natuur nie.

Ons pak vinnig vuur aan en maak onsself gerieflik.  Die “winter-woollies” is uit die tas gepluk en aangetrek.  Die vuur maak dit gou-gou lekker warm in die huisie, en sit ons snoesig met ‘n glasie rooiwyn in die hand en kuier.  Hoe wonderlik om uiteindelik hier te kan wees.  Natuurlik braai ons vleis… met lekker aartappels en patats wat in die vuur gebak is.  En toe daag ons eerste “besoeker” op:  Strepies, die veldmuis, kom groet.  Sy’s vinnig hoor…. ons het nog net gedink om haar te verjaag, dan is sy uit by die gat waar sy ingekom het.  En so gaan dit deur die aand.  Sy kom en gaan vinniger as wat ons kan beweeg.

Heelwat later, lekker loom gebak deur die hitte, en vol magies, maak ons die beddens reg.  Fred, Linda en ek slaap sommer so voor die vuur, en ons stook dit behoorlik voor die ligte afgesit word.  Lekker toegewikkel in die beddegoed, slaap ek heerlik. 

Saterdag:  25 Oktober 2008

Vroeg die volgende oggend begin ons beweeg.  Dit is warmer as gister.  Erhardt het laat weet dat hy, Velma en Eberhardt, saam met ons op die 4×4 roete wat ons vandag gaan aandurf, wil ry.  Hulle is teen 8:30 by ons.  Die ander mense wat sou saamgaan daag nie op nie (gisteraand se koue het seker sy tol geeis… of is dit miskien dit wat die koue moes wegneem, wat sy tol geeis het?)  Teen 9:15 vat ons die pad.

Die 24 km sirkelroete is omtrent 4 uur lank, maar ons stop baie langs die pad.  Hoe beskryf ek die omgewing?  Sover as wat ons ry word die gedagte in my al sterker dat ‘n fynbos skilder of -fotograaf in hierdie berge genoeg werk (kan mens dit so noem?) sal he om ‘n leeftyd te hou!  Hier is net soveel verskillende plante wat wedywer met mekaar om gesien te word.  Die meeste Proteas het klaar geblom, maar daar is soveel ander blomme dat al se ek ook wat, ek dit nie sal kan beskryf nie.  En natuurlik, dit wat vir my baie belangrik is, die berge om ons.  Die absolute wonder – die skoon lug wat ons inasem – die grootsheid van alles!  En dan besef mens net weereens hoe groot ons God is – alles is so in harmonie met mekaar! 

Die roete laat my nogal baie dink aan die Grimsel Pass wat ons in Switserland gery het.  Al verskil is dat daardie pad geteer is.

Daar is verskeie piekniek plekke op die roete waar ons stop en alles om ons indrink.  Dan sien mens die baie ou klein plantjies wat hul blommetjies uitsteek om ook raakgesien te word.  Dis die mooiste fynbos, met die pragtigste kleure denkbaar.  Op die hoogste punt (1000 m) het ons middagete ge-eet.  Dit is by die Goudgat:

Goudgat

Goudgat

Vandag sien ons niks van die diere wat wel hier in die area is nie.  Selfs nie eers voels nie.  Die huisie en roete is bokant die sneeulyn.  Moontlik is dit omdat dit so hoog is en omdat die wind nog so waai dat ons geen voels sien nie.  Maar dis nie koud nie, en die wind is ook nie so erg dat ons dit nie kan uithou nie. 
Met die afgaan is daar een sekere plek wat baie rof is.  Dit is nogal naby ons huisie en Eldré besluit om huis toe te stap en ook die rowwe plek liewer af te stap en van onder af dan fotos te neem van die motors se afkomslag.  Ek besluit om saam te stap en loop ook op die sementstroke af, en net waar die sement ophou en die grond weer begin, gly ek op die los klippe en val lelik en hard!  Ek land op my linkerheup, hou die kamera blykbaar in die regterhand omhoog en land dan op my kniee.  Klim toe maar ewe gedwee (met ‘n kop wat van skaamte hang) weer terug in die Fortuner.
By ons huisie gekom, maak Linda dadelik vuur in die kaggel en lekker warm koffie om te drink.  Ek maak my “wonde” skoon en besef eers later hoe seer ek gekry het.  Teen die aand is my knie blou en opgeswel en is dit moeilik om te beweeg.
Ons bly stook die vuur, dis heerlik om net rustig te kan ontspan.  Rohan het gaan rugby kyk saam met vriende, en toe hy terugkom na die wedstryd het ons weer vleis gebraai en sommer net gekuier.  Ons het die gate waar Strepies gisteraand ingekom het, met stompe toegemaak, en het ons geen besoekers verder gehad nie.
Sondag: 26 Oktober
Lekker vroeg wakker geword, en kon my oe nie glo toe ek uitkyk nie.  Die hele landskap voor ons huisie het heeltemal verander vanoggend.  Die son is nognie op nie, maar die hele wereld onder ons was toegegooi onder ‘n wolkemassa.  Dit het vir my gelyk soos ‘n massiewe donskombers!  Net daar besluit ek om die sonsopkoms te gaan inwag op die stoep.  Almal slaap nog en probeer ek maar so stil as moontlik beweeg.  Maar dit is so stil dat enige geluid, selfs ‘n tissue wat val, gehoor word. 
Hoe pragtig is hierdie oggend nie!!  Die wydheid en grootsheid en skoonheid van die natuur laat my klein en nietig voel. Wat ‘n besonderhede voorreg om hier te kan wees en hierdie pragtige wereld te kan geniet.  As ek kon skilder sou ek dit graag wou skilder.  En my skryfvermoe is nie goed genoeg om te beskryf presies hoe ek dit beleef nie.
Die sonsopkoms is pragtig!  En hier is vanoggend voeltjies.  Ek hoor selfs ‘n duifie koer in die verte.  Die suikerbekkies speel tussen die proteas.  En ek besef dat dit is net dit wat kortgekom het tot dusver.  Ek het die voeltjies gemis.
Die dag is pragtig en stil.  En ons rus en geniet die stilte.  Ons lees en slaap en onthou darem om ‘n ou ietsietjie in die maag te prop toe die hongerpyne begin knaag.  Hierdie was ‘n wonderlike wegbreek.  Gelukkig (of ongelukkig) net bedoel vir 4×4’s en kan ons gewone motortjies nie hier uitkom nie.  Dankie dat ons hierdie naweek met julle kon deel Rohan en Eldré.  Ons sal dit nie maklik vergeet nie.
Gaan kyk my fotos hier
En lees Rohan se blog hier