SNEEU….. in November….. in Suid Afrika???  Nou het ek ALLES gesien!!!

Ek laat my sowaar oortuig om saam te gaan op die 4×4 roete in die Matroosberge.  Ek en Fred is vroeg aan die roer en net voor 8 stop ons by Rohan en Eldre se huis.  Die Fortuner staan reeds en idle….  Eldre ry nie vandag saam nie.  Dis net ons 3 en dan ontmoet ons vir Erhardt, Ehrica en Eberhardt in Ceres.

Ook maar goed dat ek nie vroegoggend al reeds geweet het wat op my wag nie.  Ek wonder of ek wel sou gegaan het…. maar nou dat ek dit wel beleef het, is ek baie bly dat ek wel deel was van hierdie dag.

Op die plaas, Erfdeel, waar die roete gelee is, aangekom word die wind uit die wiele gelaat, en vertel almal wat daar rondstaan hoe straf die roete is.  Die Kaap het mos verlede week onder erge storms deurgeloop, en so ook die Matroosberge.  Rohan en Erhardt besluit om te ry… ons is dan nou hier… en indien die pad regtig so onbegaanbaar is, sal hulle ‘n besluit neem om aan te gaan of om te draai.  So gese, so gedoen.

Sommer nog hier aan die onderent van die berg is daar al dongas in die pad:

Die diep sloot waar eens pad was.

Die diep sloot waar eens pad was.

As alles goed gaan wil ons graag ry tot op die top van die berg… die hoogste piek is 2249m – dis ook die hoogste piek in die Boland.  Die pad is egter maar sleg…. en ek het gou-gou geleer om maar liewer nie na die pad te kyk nie, en het kort-kort ‘n skietgebedjie opgestuur.  Terwyl Rohan en Erhardt die stryd met die klippe en dongas aanse, en ek my afsny van die pad, geniet ek die natuur en die berge – en ek neem fotos. 

Onderlangs is daar baie proteas, maar hoe ho-er ons opgaan hoe minder plantegroei is daar, tot daar later net klip is.  Die sand wat tussen die klippe was wat die pad gevorm het, moes seker als weggespoel het, want daar is orals net rotse en klippe.  Ek moet regtig vir Rohan en Erhardt geluk wens met hul hantering van die voertuie.  Hulle was voorwaar fantasties.  Ja, die Fortuner sowel as die Jeep, het met krappe en duike van hierdie berg afgekom.  Ek is glad nie ‘n 4×4 entoesias of kenner nie, maar hierdie trippie het my oe laat oopgaan.  En dan moet ek erken dat ek nie sou gegaan het as ek vooraf geweet het nie. 

Die Matroosberge en Ceres is mos bekend vir sneeu in die winter, en elke jaar stroom die mense daarheen om te gaan sneeu kyk, of te gaan ski.  As ek egter so na die hange van hierdie berg kyk, en ek visualiseer die sneeu daarop en die mense wat daar ski, dan trek my maag op ‘n knop en weet ek dat dit nie iets is wat ek sal doen nie.  En dan moet die mense wat wil ski, nog teen hierdie berg op LOOP! want dan is die pad glad nie begaanbaar nie.  Nee dankie.  Ek dink dis great dat daar mense is wat dit wil en kan doen, maar dis definitief nie vir my nie. 

Ons het op ‘n paar plekke gestop om die natuur te bewonder, en die afgronde te probeer afneem, en voortgegaan met klim tussen die klippe op pad boontoe.  Net voor die heel laaste stukkie na die top, het ons weereens gestop en is daar kajuitraad gehou.  Ons moes ook wag vir ‘n voertuig wat op pad terug is van heelbo af.  Hulle vertel dat die pad boontoe maar sleg is, maar dat die uitsig alles die moeite werd maak. 

Ons sien plek-plek tussen die rotse die wit kolle.  Aanvanklik het ons gewonder daaroor want dit lyk behoorlik soos die gletsers wat ons in die Alpe gesien.  Ja, sowaar, dit is sneeu!  Ons kon dit nie glo nie.  Ons weet die berge kry elke jaar sneeu, maar dis November maand!!  Later sou ons hoor dat dit so onlangs as September daar gesneeu het (ons winter het mos lank aangehou hierdie jaar), en dat daar nog meer en dikker sneeu gele het voor verlede week se storms, maar het die baie water van dit weggespoel. 

Uiteindelik was ons bo, en kon ons by so ‘n lekker groot hoop sneeu ons worsies braai.  Daar was ‘n geniepsige windjie, maar dit was eintlik glad nie koud nie.  Die kinders het heerlik gespeel, en selfs Rohan het gaan voel presies hoe koud die sneeu is.

Rohan in die sneeu

Rohan in die sneeu

Ehrica en Eberhardt was later sopnat, maar van ophou is daar nie sprake nie.  Hulle 2 geniet die uitstappie…. en mis nie ‘n geleentheid om saam met Pa Erhardt die berge en duine aan te durf nie.

Toe het die terugtog begin.  Ons magies was vol en al die opwinding en spanning het sy tol begin eis.  Ons was almal lekker moeg.  Ek kan nie dink hoe moet so ‘n trippie die bestuurder uitput nie.  Op ‘n pad soos wat ons vandag ry, kan hy nie vir ‘n sekonde sy aandag van die pad af laat gaan nie.  Hier tel die kombinasie van ‘n goeie bestuurder en goeie motor al die punte.  Die een sal nie sonder die ander dit kan doen nie.

So 3 uur later was ons terug by basis en moes die wiele weer opgeblaas word.  Op Ceres koop ons koffie net voordat ons die pad huis toe vat.

Hierdie dag was hectic!  Dit was egter ‘n groot ondervinding.  Ek sal die angswekkende pad probeer vergeet, maar die natuurskoon nooit.  Dis wonderlik om so hoog bo die res van die wereld te wees, en alles so van bo af te kan besigtig – regtig ‘n bird’s eyeview.  Die gevoel van vryheid wat ek ervaar het daar hoog bo, kan ek nie in woorde weergee nie. 

Die berge bly die beste!!!