Tag Archive: Ons 2008 Duitsland Vakansie


Ek bly wonder hoe om dit wat in my hart is weer te gee.  Hoe verduidelik ek die grootsheid, die intensiteit, die emosies, die gevoel?  My woordeskat is te klein, of onvoldoende, of wat ook al.  Dit is net onbeskryflik mooi, en GROOT!  Dit is die “KOLN DOM” – Koln (Cologne) se Katedraal.  Selfs die fotos wat ons probeer neem het, vertel nie die hele storie nie.  Dit kan nie…. dis net te oorweldigend.

 

Saterdag, die 14de, en vandag gaan ons Koln toe.  Die opgewondenheid is groot, want eerste op ons lys is die Katedraal.  En daarna…. ons sal sien wat die dag inhou.  Die weer speel net nie te lekker saam nie, maar ons het reeds besluit dat ons ons nie sal laat afsit deur die weer nie.  Ons neem elke dag soos dit kom en gebruik die oomblik.

 

Eerstens kry ons ‘n bus tot by die stasie, en daarvandaan ‘n trein.  Nee, ons neem nie die vinnige trein (die ICE) nie, sommer net die IC wat ons sommer gou gou by Koln bring.  My eerste aanblik van, wat ek op daardie stadium dink, die Dom, laat Walter en Marli glimlag en se dat ek sommer sal weet wanneer ek die Dom sien.  En so was dit!  Asembenemend groot en majestieus troon hy oor die stad, toe ons by die stasie geboue uitkom.  ‘n Paar honderd tree en ons staan op die trappe voor hierdie gebou wat al so oud is.  Nou is ek jammer dat ek nie baie meer opgelees het oor die geskiedenis van hierdie Dom nie.  Dit voel asof alles wat ek reeds geweet het daarvan, heeltemal te kort skiet.  Wat beteken elkeen van die beelde wat soveel jare al uitkyk oor Koln, wat die dorp sien groei het in ‘n stad, wat die magtige Rhein vir dekades sien loop het…. wat miljoene mense sien kom en gaan het.  Elke klipbeeld is in detail uitgekap.  Volmaak.  Hier en daar ontbreek een…. wat sou daarmee gebeur het?  Watter geheime le nie in daardie kollosale klipgebou ingebou en weggesteek nie?

 

Toe was dit tyd om saam met al die baie mense na binne te gaan.  Hoe mooi kan mooi regtig wees?  Die gewyde atmosfeer is voelbaar.  Ten spyte van soveel mense wat rondloop en rondkyk, en saggies met mekaar gesels, is daar stemme en geluide uit vervloë tye wat iewers hier in my hart weerklank vind.  Ek moet ‘n kersie aansteek…. ek weet nie heeltemal hoekom nie, ek weet net dis wat ek moet doen.  Dan se dankie dat ek hier mag wees.  Dankie vir ‘n Hemelse Vader wat ek kan aanvoel soos wat ons rond beweeg.  Daar is ‘n diens aan, en kan ons nie heeltemal diep die gebou inbeweeg nie.  Ons besluit om met die terugkeer huis toe later vanmiddag, eers weer hier in te kom.  Terwyl daar nie dienste gehou word nie, mag ons deur omtrent die hele gebou beweeg.  My kamera bly kliek…. maar dis onmoontlik om die grootsheid vas te le, en ons kamera neem nie mooi fotos in die skemerte nie.  Marli raai my aan om liewer maar net te ervaar, en nie te probeer vaslê op kamera nie.  Maar ek kan myself nie keer nie….

 

Die weer het versleg buite, en besluit ons om eers ietsie warm te gaan soek om te drink en ietsie te eet.  Ons loop in die Altstadt en vind ‘n snoesige plekkie.  Ons glo, soos Marli en Walter, dat as mens in die vreemde is moet jy probeer om kos te eet wat gewild is op daardie spesifieke plek.  Maar om van my te verwag om Bludwurst te eet, is baie gevra.  Walter bly maar by die bekende, en bestel sop (hy het in elk geval al al die snaakse goed probeer), ek en Fred besluit op Leverwurst, maar Marli gaan voluit vir die Bludwurst.  Ons kan ook nie bybly met die bier drinkery nie.  Dis so deel van elke Duitser, en inwoner van hierdie land, om bier te drink.  Hier is soveel verskillende soorte en smake, en lig en swaar in alkohol…. regtig iets vir elkeen se smaak.  Ek hou maar by my koffie, dit maak in elk geval warmer.

 

Ons geniet ons Leverwurst en slaai, en vat ‘n happie van Marli se Bludwurst.  Glad nie oneetbaar nie, maar…. nou kan ek darem ook se ek het dit geëetJ  Ek het niks vêrder nodig om te bewys nie!

 

Ons volgende stop:  die Schokoladen Museum!!

 

Ons loop al langs die magtige Rhein.  Ons sien die bote beweeg, op en af.  ‘n Luukse boot le aan wal en ons vergaap ons aan al die luuksheid.  Hier en daar sit ‘n man en probeer visvang.  Ek neem een ou af wat lekker sit en dut terwyl sy stok in die water is, en ek en Fred lag omdat die ou nie weet dat hy saam met ons teruggaan Suid Afrika toe nie.

 

Die sjokolade museum is bo-oor die water van die Rhein gebou.  Ons neem nie ‘n begeleide toer nie, want ons sal dit tog nie verstaan nie.  Ons monde kwyl terwyl ons na al hierdie sjokolade kyk!!  Lindt….. Ons sien hoe van die masjiene werk, en kry actually ook op ‘n kol van dit te proe.  Ons sien een groot outomaat waar die loperige sjokolade aan die een kant inloop, die klein blokkies gevorm word en vêrder aan waar die papiertjies omgesit word en dit dan uitgeskop word, en ‘n persoon die houer vashou waar ‘n gelyke aantal blokkies dan inval.    Ons lees oor die geskiedenis van sjokolade – hulle vertel op groot borde in Duits en Engels van waar dit vandaan kom, al die prosesse wat deur die eeue gevolg is tot waar dit vandag is.  Die bome groei net in spesiale omstandighede. Om self te voel hoe die klimaat moet wees, besoek ons die spesiale groot tropiese kubus, wat oor 2 vloere strek, waar die temperatuur net reg is, die humiditeit baie hoog gehou word, en waar allerhande tropiese plante groei, insluitende die kakao boom.  Dis mistig daarbinne en warm.  Natuurlik probeer ek fotos neem…. maar fotos kan mos nie dit weergee wat mens voel nie.  

 

Op die einde van ons toer deur die fabriek, besluit ons om darem net ietsie dekadent te gaan eet.  Ons was baie soet en het nie eers een sjokoladetjie gekoop nie.  Maar koffie of dekadente sjokolade drankies of koek of tert is ‘n ander ding!  ‘n Bederfie vir die dag.

 

Die volgende stop sou ‘n kuns museum wees, aangesien die weer nie toelaat dat ons buite rondloop nie.  Maar o wee…. die tyd het ons ingehaal en MOET ons net eenvoudig teruggaan na die Dom.  Dis amper toemaaktyd daar… maar ons het ‘n paar minute om daar rond te beweeg – hierdie keer deur die hele gebou.  Ons is verstom!  Die grootte, die pilare, die dak, die vensters, die beelde, die vloere…. dis onbeskryflik.  Die rustigheid oorweldig my weereens.  Ek wil so graag ‘n diens hier bywoon.  Weereens se ek dankie!

 

Totdat die teken gegee word…. nou moet almal uit want die volgende diens begin oor 20 minute.  Ek durf waag om een van die Bishops wat almal by ‘n hekkie uitboender, af te neem, en heel onskuldig weg te kyk.  Blykbaar het hy met ‘n baie vuil kyk vir my dankie gesê vir die foto.  Hoe moes ek nou geweet het dat hy in die pad van die kamera sal kom – en hoe weet hy of ek hom afgeneem het of nie?

 

So kom ‘n heerlike dag tot sy einde.  Terug stasie toe, en nou moet ons (ek en Fred) die regte trein en platvorm aanwys.  Dis mos hoe ons leer om van die openbare vervoer gebruik te maak.  Die regte trein, en ons is op pad.  In Troisdorf aangekom, wag ons by die bushalte vir Marli en Walter wat net gou ‘n ietsie gaan koop, aangesien alle winkels mos more (Sondag) toe is.  Terwyl ek die bus tye en roetes bestudeer, knoop Fred ‘n “geselsie” aan met ‘n ou tannietjie wat daar aangeloop gekom het met haar ‘Rolls Royce’ – dis ‘n mandjie op wiele wat sy stoot met haar inkopies van die dag… alles mooi netjies daarin gepak.  (Sy vertel later vir Marli dat aangesien sy nie meer haar motor kan bestuur nie, sy hierdie nuwe Rolls Royce aangeskaf het wat met mannekrag werk.)  Fred praat in Afrikaans en die tannietjie in Duits en hulle lag en chat soos ou bekendes.  Toe Marli en Walter daar aankom, dink hulle ons het iemand ontmoet wat Afrikaans (of Engels) kan praat… en was maar baie verbaas toe hulle agterkom dat sy eintlik net Duits kan praat.  En toe Marli eers met haar in Duits begin gesels is daar nie keer nie.  Kort voor lank ken ons haar hele geskiedenis.  Die bus wat ons sou huis toe neem, het die vriendskap gou kort geknip.  Maar dit het net weereens bewys: met vriendelikheid kan mens brûe bou!  Handgebare en al.

 

Dit was dan verlede Saterdag.  Sondag het ons stil by die huis deurgebring met Fred wat vir ons hoender en groente in die webber gaar gemaak het.  Maandag oggend het Marli en Walter baie vroeg vertrek.  Hulle is vir ‘n paar dae, tot Vrydag, Switzerland toe, om vriende wat van Kanada af daar kuier, te gaan besoek.  Interlaken, om presies te wees.  Hulle was al voorheen daar, maar Marli vertel telefonies hoe die skoonheid haar opnuut bekoor het.  (Ons beplan ‘n kort toer deur ‘n paar Europese lande in Augustus, en nou gaan ons maar probeer oe toeknyp en Interlaken insluit by ons toer, indien dit moontlik is)

 

Dinsdag het ons ons stapskoene aangetrek, die padkaart geneem, rugsakke op die rug, en die pad aangedurf, in die voorstede rond en aangesien ons op ‘n kol halfpad dorp toe was, het ons sommer daarheen ook gestap.  Lekker apfelstrudel geëet en latte machiato gedrink, en die terugtog aangedurf.  Na 4.5 uur en ongeveer 10 km was ons weer tuis.  Ek het nie gedink dat ek die stappery so sal geniet nie.  Wys jou net!

 

Vandag moes ons weer gaan kos koop by die Hit.  Die lang dae maak ons nog steeds deurmekaar.  Wanneer ons in die aand al vergete moes gaan slaap het, is dit nog lig buite, want as dit nie reën of bewolk is nie, dan gaan die son eers by 10.00 in die aand onder, en teen 4.30 in die oggend steek hy alweer sy kop uit.  So, alhoewel ons die staalluike voor die vensters toemaak om die lig uit te sluit, help dit nie regtig nie.   Ons kry dit nie reg om teen 10 of 11 uur aan die slaap te raak nie…. nee, middernag of later.  Maar kry ons nou uit die bed uit die volgende more….. aikôna!

 

 

 

 

 

 

En daar slaan die krankheit toe!!  Unerwartet und unvorhergesehen!  Drama van die eerste water.  Marli en Walter het nognie ‘n dokter van ‘n uur oud hier nie, en nou het ons een dringend nodig.  En natuurlik is dit toe vroeg oggend voordat Walter moet gaan werk.  Toe gebeur alles gelyk!!  Walter bel rond en kry ‘n dokter wat redelik naby is.  Hy kom terug met ‘n vorm om al ons besonderhede op in te vul, praat in die tussentyd met die buurman (wie se dat hierdie ook hulle dokter is), en hy bied aan om ons te neem.  In die motor…. Toetse gedoen…… en gaan sit voor die vreemde man wat ek nie kan verstaan nie.  Gelukkig met Fred en Walter wat bystaan.  Walter moes maar saamgaan want hy moet vertaal.  Gelukkig praat die doktertjie toe darem ‘n bietjie Engels.  Goeiste!!  Wat ‘n ondervinding!!  En beslis nie ‘n lekker een nie!!  Toe apteek toe vir antibiotika en buurman wat ons weer kom haal.  Kon nie eers my beste voetjie voorsit vir die bure nie…. nee wat, was te siek om daaraan te dink.  Gelukkig is alles weer wel.

Twee dae van sonskyn wat ons in die huis moes bly.  Maar, vanoggend, sonskyn of nie sonskyn nie, gaan ons die pad vat en loop in dorp toe.  Mooi… toe ek my oe oopmaak vroeg oggend skyn die son by ons venster in.  Teen die tyd wat ons wil loop, is dit bewolk.  Maar nee…. ons gaan stap.  Dis so 30-45 minute se stap dorp toe, maar kom wat wil…. vandag doen ons dit.

Gelukkig het ons vir Fred ‘n reenjas gekoop, iewers in verlede week.  Maar ek het nie een nie, en ons het ook nie ‘n sambreel nie.  Maar, besluit ons, ons koop vir my ‘n reenjas sodra ons in die dorp kom.  Walter het vir ons ‘n kaart geteken, en so stap ons toe lekker sonder om te verdwaal.  Heerlik koelerig, maar dit reen nie.  So 45 minute later is ons toe in die middedorp.  Nou soek ons koffie, en apfelstrudel.  Ons eerste van die vakansie.  Ons drink heerlik koffie in ‘n kafee waar die eienaar toe Engels magtig is.  Maar terwyl ons onsself so vol kaloriee stop, sak die reentjie uit en sowaar….dit reen nog die hele dag sonder ophou.

Ons loop toe maar so onder die dakke langs om te soek na ‘n reenjas, maar nee…. die een winkel waar ons wel kry is so duur dat dit eintlik lagwekkend is.  “Brandnames”…. dis wat hulle verkoop.  Stap verder, en by ‘n cheap winkeltjie koop ons toe 2 sambreeltjies…. ook net groot genoeg om mens se kop toe te hou.  Dit help darem.

Nee wat, besluit ons toe, dis nie die moeite werd om hier in die reen rond te staan nie, en sal ons liewers huistoe gaan….. maar beslis nie loop nie.  Nou gaan ons die volgende uitdaging aanvat… ons gaan ‘n bus huistoe kry.  Gelukkig het Marli en ook Walter vir ons mooi touwys gemaak, en siedaar… ons kom veilig tuis met die regte bus.

Dis regte pannekoek weer… en as ek nie so lui was nie sou ek gebak het….

Gister en vandag is dit warm.  20.41 gisteraand was dit steeds 29.5 grade buite.  Dis nou 14.38 en is dit 27 grade buite.  En die humiditeit is hoog.  Maar ons geniet dit. 

Ons derde dag hier, Dinsdag die 3de:                                                          ons eerste keer alleen, en moet ons onsself vermaak.  Ons het mos gister gesien hoe die pad loop, en vandag stap ons “Hit” toe.  Daar is ‘n klein sentrumpie waar ons eers in rondloop om alles te bekyk.  By ‘n klein bakkerytjie koop ons vir ons elkeen ‘n broodjie – maar eers nadat ons met die mense moes praat natuurlik.  “Ich spreche kein Deutch” (ek praat nie Duits nie), is woorde wat ons seker nog baie gaan gebruik.  Toe ons dit vir die dame agter die toonbank se, hardloop sy dadelik om iemand te gaan haal wat Engels kan praat.  Toe is dinge darem baie makliker. 

Ons lag vir onsself met die taal.  Ons loop met ‘n Duits/Engelse woordeboek, en natuurlik die frase boek wat ons by die huis al aangeskaf het.  Dis ongelooflik hoe baie dit help, maar dit vat net so tyd.   Hier help Engels ons nie juis nie.  Ons praat maar afrikaans en se frases wat ons nou al geleer het in duits, maar verder is dit maar handgebare en glimlagte wat die ding moet doen.  
Marli hulle bly in ‘n baie mooi woongebied.  Hulle huis, soos omtrent maar almal hier rond, is op 3 vlakke gebou.  Basement, in hulle geval, bestaan uit drie groot vertrekke waar hulle vrieskas en 1 yskassie staan in die een vertrek, sowel as die wasmasjien.  Dus gebruik hulle dit slegs vir waskamer doeleindes.  Dit het ook ‘n deur wat uitloop na buite.  Die ander twee vertrekke is maar pakplek. Die middel vloer, wat direk op die straat en agtertuin uitloop, bestaan uit die ma se sitkamer, kombuis en badkamer (stort, wasbak en toilet).  Die boonste vloer bestaan uit 3 slaapkamers en ‘n badkamer met ‘n bad.  Dan is daar ook nog ‘n enkel garage.  Voor en agter op die boonste vloer is daar ook balkonne.
 
Hulle gebruik 1 slaapkamer vir ‘n studeerkamer.  Nou moet ek ook se dat die studeer en hoofslaapkamer groter is as die normale huis in Suid Afrika se vertrekke.  Die ander slaapkamer is groot genoeg vir ‘n kingsize bed en nog ‘n losstaande kas.  
 
Die sitkamer op die grondvloer is baie groot.  Vir die kuier het hulle die vertrek in 2 gedeel, en met boekrakke afgeskort sodat die een deel wat op die straat uitkyk nou ons slaapkamer is.  Dit is baie privaat en pla ons hulle nie terwyl hulle moet werk nie.  So die boonste vloer behoort aan hulle, en die onderste aan ons, met die kombuis dan op ons vlak.  Dit werk heerlik.  Hulle het ook vir my die laptop en ekstra screen opgestel in die sitkamer op ons vlak, en kyk ek uit op die tuin waar ek hier sit en tik.  Hulle tuin is pragtig en boomryk en vol sculptures.  Daar is ook ‘n lekker groot stoep met ‘n dak wat verleng kan word ingeval dit reen.
 
6 Junie:  Marli het gister aand huis toe gekom van Darmstadt af, maar is Vrydag nog vir haar ‘n werksdag – dan werk sy van die huis af.  Dus het ons haar gelos en besluit om die dag in Knauber te gaan deurbring.  Knauber.  soos ek reeds gese het,  is Knauber ‘n baie groot winkel.  Dit verkoop enige ding behalwe meubels.  Hulle tuin afdeling is g r o o t!  Hulle troeteldiere afdeling is g r o o t! Verder is daar hardeware (ook g r o o t); speelgoed, crafts, huishoudelike ware, buitelug benodighede asook tuin meubels.  Elektriese toestelle, wol, gordynmateriaal, en wat nog alles.  ‘n Heerlike winkel om met die oe te koop!!
   
Ons stap van die een rak tot die volgende rak.  Ons let op dat al die personeel permanent besig is met werk.  Ons het reeds by ander winkels ook al opgelet dat daar min personeel is.  Dit is blykbaar omdat werk baie duur is hier, en mense trots is op wat hulle doen.  Elke persoon doen wat van hom verwag word en nog baie meer.  Selfs die bestuurders, is altyd aan die gang.  Mens kan hulle uitken aan hulle kleredrag  sowel as dat hulle naamspeldjies, wat almal dra, dit ook aanwys.  Dis ongelooflik hoe netjies die winkel is – maar ook al die ander plekke waar ons reeds was.  Niks le rond op die vloere nie, die vloere is silwerskoon en die rakke is baie mooi netjies.  Niks is uit sy plek nie.  En die personeel is altyd besig om rakke reg te pak en nuwe goed uit te pak.  ‘n Mens sien nerens dat die personeel in groepies staan en gesels nie.  En almal is so vriendelik.

Met Fred se hardeware agtergrond (en sy perfeksionisme:-), het ons nogal lank vertoef in die hardeware afdeling.  Dis ongelooflik netjies.  Hy hou net aan se  hoe lekker dit sal wees om in so ‘n plek te werk – met alles netjies op sy plek en waar mens duidelik kan sien wat elke item kos en niks wat rondle nie.  Wat ook nogal opvallend was, is dat hulle oral sulke klein tv skermpies het wat heeldag speel en vir die kliente presies wys hoe die masjiene op die spesifieke rak werk.  Al verstaan ons nie alles wat hulle se nie, kan mens duidelik sien hoe om met ‘n ding te werk.  Selfs ek wat maar dom is met sulke goed, kan actually verstaan wat daar aangaan. 

Saterdag het ons vier Siegburg toe gegaan.  Dis waarheen ons die eerste dag verdwaal het.  Hierdie keer het ons egter met die trein (die IC (intercity)soos hy genoem word) gery.  Dit is die minder vinnige trein.  Die vinnige een is die ICE (intercity express).  Die stasie waar ons afgeklim het, is omtrent in die middedorp.  Ons het basies daar rondgeloop op die voetganger strate. en Walter het goed gesoek.  Ons het by so ‘n oulike kafeetjie, Mi Amor Bistro geeet.  Flaminkuchan.  Het daarvan fotos geneem.  Gaan kyk gerus:  http://picasaweb.google.com/Engelevrou/Duitsland20082deAlbum

Sover ons loop en beweeg neem ek natuurlik fotos.  Heeltemal trigger happy, soos enige toeris seker maar is.  Vir ons is hierdie vakansie net so spesiaal, dan ons alles in detail wil onthou.

Sondag, 8 Junie, het ‘n kollega van Walter, Johan, hier by ons kom eet.  Walter het vir ons ‘n lekker potjie gemaak.  Johan is ook nuut hier in Troisdorf.  Hy is ‘n Sweed, wie in Quebec in Kanada gewerk het by die maatsappy vir wie Walter werk, en dis hoe hulle mekaar ontmoet het – in Kanada met al Walter se rondbeweeg daar.  Nou is hy ook hierheen oorgeplaas en het maar Woensdag hier aangekom.  Heeltemal vreemd en kan ook nie Duits praat nie.  So daar le vir hom nog baie studie voor.  En natuurlik drink ons bier saam met die potjie.  Dis wat die Duitsers doen, en terwyl ons in Rome is doen ons soos die Romeine doen!  Hulle het baie verskillende soorte bier hier in Duitsland, sterk en minder sterk.  En van die wat ek nou al geproe het, is dit nie so sterk en bitter soos ons s’n in SA nie.  Maar eks glad nie ‘n kenner nie, ek wil net niks mis nie!!  En was Marli verontwaardig toe Fred vir haar ‘n warm bier gaan haal!!  Later die middag het ons almal gaan loop en afgekom op ‘n parkie of wat hulle dit ookal noem.  Mense en hul honde loop daar rond, daar is ‘n speelpark vir kinders (waar ons kinders toe ook gespeel het) en alles is baie mooi.  Kyk maar na die fotos!

Gister moes ons gaan kos koop, en is dus weereens Hit toe.  Marli en Walter het nog nie vir hulle ‘n motor aangeskaf nie, maar ry met hul fietse rond en natuurlik is die openbare vervoer so gerieflik en gereeld, dat hulle werklik nie ‘n motor hoef te he nie.  Maar dit beteken dat as ons kos gaan koop moet ons dit alles dra.  En dis nou waar die rugsakke so handig te pas kom.

Wat vir ons opvallend was by hulle kruidenierswinkels is dat jy moet 1 euro betaal as jy ‘n trollie gaan haal.  Hulle is almal vas aan mekaar, en sodra jy die euro insit kom een los.  Wanneer jy die trollie terugneem, en weer vasmaak, kry jy die euro terug.  So staan daar nooit trollies rond nie.  Ons verkyk ons aan die vrugte en groente.  Dit is so mooi uitgestal, en so vars, dat ‘n mens net lus voel om te koop.  In die somer hier in Duitsland, is die mense aspersie (“spargel”), en strawberry (“endbeeren”) mal!!  Die aspersies is baie groot en kry jy hierdie tyd van die jaar aspersie op enige manier voorberei by al wat ‘n restaurant of eetplek is. 

Terug by vandag…. en ons bly by die huis.  Mens moet darem ‘n ruskansie ook kry.  Ons geniet die weer so baie, en glimlag in ons mou vir die Suid Afrikaners wat nou winter het.

Nou eers weer bietjie genoeg gesels….

Groete tot ‘n volgende keer.

Toe die selfoon wekker met ‘n gejuig afgaan, staan ek reeds langs die bed.  Dis 2:30 die  oggend van 1 Junie 2008.  Dis nou tyd!  Die begin van ons grootste avontuur tot dusver.  Vyf maande is verby van voorbereidings tref nadat ons kinders vir ons hierde geleentheid gegee het, as geskenke vir ons verjaarsdae, om vir Marli en Walter te gaan kuier in Duitsland.  Dis my eerste trip oorsee, en ek kan nie wag nie!  Na rondskarrel van laaste minuut dinge doen, arriveer Rohan en Eldre net na 4:00 om ons lughawe toe te neem.

Ons tasse is oorgewig, maar so what?  Ons wag om te hoor wat die skade is!   Fred gesels intussen met die man agter die rekenaar in sy eie taal (Xhosa) …….. en daar gaan ons….. Ons kla nie!  Nou moet ons koffie kry, maar ai, dis vroeg in die more en alles is toe.  By die News Cafe is hulle darem al besig om die stoele reg te sit, en maak ons onsself solank tuis terwyl ons wag.  Nog so halfuur se die man, dan is die koffie reg.  Nou kuier ons vir oulaas voor ons vertrek.  Eldre is baie moeg!  Sy het nog glad nie geslaap in hierdie nag nie.  Rohan het darem so 2 ure slaap ingekry.  Gelukkig is dit Sondag en kan hulle gaan slaap wanneer hulle nou huis toe gaan.

Uiteindelik teen 5:30 is die koffie reg en die kombuis oop.  ‘n Geroosterde toebroodjie en ‘n caffe latte om die senuwees te kalmeer is net die regte ding.  Ons is so opgewonde!!   

6:15 is dit tyd om te groet!  Ons gaan maklik deur customs en hak sommer in die eerste winkeltjie al vas.  Toe moet ons draf om vliegtuig toe te gaan.  En wie wag om ons kaartjies te check?  Fred se vriend van vroeer by wie ons ons bagasie ingegee het.  Met’n groot glimlag en baie stories is ons daar verby en in die wagtende bus.  Teen 7:00 sit ons gemaklik op ons plekke en styg so 7:07 op. 

Duitsland, hier kom ons!!!

Die vlug is baie gemaklik.  Ons het seker nie die beste van sitplekke, spasiegewys, nie, maar dis net ons 2 in die ry en staan ons baie op om te rek en strek en rond te loop.  Ons hoef oor niemand te klim of hulle oor ons nie.  Dis al klaar ‘n groot pluspunt.  Fred kry dit reg om 2 keer gedurende die vlug lekker aan die slaap te raak, maar ek is seker te opgewonde – kry dit netnie reg om behoorlik weg te raak nie.  Dut darem so hier en daar.  Die kos is heerlik en die lugwaardinne baie vriendelik en behulpsaam.  Ons drink water, sap en koffie!!  Die dag word lank!!  Dis egter baie interessant om op die kaart te volg hoe ons vlieg.  Oor onder andere, die Afrika lande, Algerie, Spanje ….  En gelukkig is die vlug gedurende die dag en kan ons sien wat aangaan onder ons.  Ons sien die Namib se duine waar Rohan en Eldre onlangs vakansie gehou het en van 0x0 tot 4×4 gegaan het!  (Nou kan ons darem se dat ons OOR Namibie gegaan het – al was ons nog nie IN Namibie nie!!  Ek kyk 2 flieks halfpad, maar hulle is nie interessant genoeg om my gedagtes besig te hou nie.  Verder luister ek musiek.  En natuurlik werk die toilette oortyd!

Op een so ‘n uitstappie, kry ek onverwags my eerste uitdaging van ons vakansie.  ‘n Ou Tantetjie (van 84 sou ons later hoor) begin heel vriendelik in Duits met my gesels.  Ek vertel toe maar vir haar in Afrikaans dat ek nie kan Duits praat nie en met baie handgebare en geblah blah blah chat ons lekker.  Sy bly in Cologne.  Haar dogter kom toe ‘n rukkie later by en sy praat toe darem Engels.  Hulle 2 was vir ‘n week in Knysna, en is nou oppad terug huis toe.

6:43 lang ons in Frankfurt.  Op pad customs toe, verwaal ons amper maar word vriendelik deur iemand in Engels (die vlieenier, wie blykbaar agter ons geloop het) reg gehelp.  Natuurlik begin Fred met hom gesels.  Hy se Fred lyk vir hom bekend, en daar kom dit toe uit dat hy in Brackenfell bly en natuurlik vir Fred in die winkel gesien het.  Hoekom is ek nie verbaas nie?  Die eerste vreemdeling op Frankfurt se lughawe, en hy ken vir Fred!!  Haha, getrou aan sy natuur ken hy mense op vreemde plekke!!

Ons gaan seepglad deur doeane, en kom baie vroeer as wag verwag is dar uit.  Ons bagasie het nie weggeraak iewers nie, en nadat ons dit gekry het, begin die staptog na buite.  Marli en Walter wag reeds vir ons!!  Ai, hoe lekker om hulle weer te sien!!  Die eerste maal na hul troue verlede jaar in April.

Nou moet ons wag tot 10:00 om die ICT (die vinnige trein) te kry.  Ons was bespreek vir die trippie, en wou hulle nie dat ons ‘n vroeer trein neem nie.  By Troisdorf se stasie moes ons ‘n taxi kry om huis toe te gaan.  Ongelooflik hoe besig dit nog daardie tyd van die aand was.  Ons was so teen 11:45 by die huis, doodmoeg maar gelukkig dat ons veilig hier aangeland het.

Gaan kyk gerus by http://picasaweb.google.com/Engelevrou