En daar slaan die krankheit toe!!  Unerwartet und unvorhergesehen!  Drama van die eerste water.  Marli en Walter het nognie ‘n dokter van ‘n uur oud hier nie, en nou het ons een dringend nodig.  En natuurlik is dit toe vroeg oggend voordat Walter moet gaan werk.  Toe gebeur alles gelyk!!  Walter bel rond en kry ‘n dokter wat redelik naby is.  Hy kom terug met ‘n vorm om al ons besonderhede op in te vul, praat in die tussentyd met die buurman (wie se dat hierdie ook hulle dokter is), en hy bied aan om ons te neem.  In die motor…. Toetse gedoen…… en gaan sit voor die vreemde man wat ek nie kan verstaan nie.  Gelukkig met Fred en Walter wat bystaan.  Walter moes maar saamgaan want hy moet vertaal.  Gelukkig praat die doktertjie toe darem ‘n bietjie Engels.  Goeiste!!  Wat ‘n ondervinding!!  En beslis nie ‘n lekker een nie!!  Toe apteek toe vir antibiotika en buurman wat ons weer kom haal.  Kon nie eers my beste voetjie voorsit vir die bure nie…. nee wat, was te siek om daaraan te dink.  Gelukkig is alles weer wel.

Twee dae van sonskyn wat ons in die huis moes bly.  Maar, vanoggend, sonskyn of nie sonskyn nie, gaan ons die pad vat en loop in dorp toe.  Mooi… toe ek my oe oopmaak vroeg oggend skyn die son by ons venster in.  Teen die tyd wat ons wil loop, is dit bewolk.  Maar nee…. ons gaan stap.  Dis so 30-45 minute se stap dorp toe, maar kom wat wil…. vandag doen ons dit.

Gelukkig het ons vir Fred ‘n reenjas gekoop, iewers in verlede week.  Maar ek het nie een nie, en ons het ook nie ‘n sambreel nie.  Maar, besluit ons, ons koop vir my ‘n reenjas sodra ons in die dorp kom.  Walter het vir ons ‘n kaart geteken, en so stap ons toe lekker sonder om te verdwaal.  Heerlik koelerig, maar dit reen nie.  So 45 minute later is ons toe in die middedorp.  Nou soek ons koffie, en apfelstrudel.  Ons eerste van die vakansie.  Ons drink heerlik koffie in ‘n kafee waar die eienaar toe Engels magtig is.  Maar terwyl ons onsself so vol kaloriee stop, sak die reentjie uit en sowaar….dit reen nog die hele dag sonder ophou.

Ons loop toe maar so onder die dakke langs om te soek na ‘n reenjas, maar nee…. die een winkel waar ons wel kry is so duur dat dit eintlik lagwekkend is.  “Brandnames”…. dis wat hulle verkoop.  Stap verder, en by ‘n cheap winkeltjie koop ons toe 2 sambreeltjies…. ook net groot genoeg om mens se kop toe te hou.  Dit help darem.

Nee wat, besluit ons toe, dis nie die moeite werd om hier in die reen rond te staan nie, en sal ons liewers huistoe gaan….. maar beslis nie loop nie.  Nou gaan ons die volgende uitdaging aanvat… ons gaan ‘n bus huistoe kry.  Gelukkig het Marli en ook Walter vir ons mooi touwys gemaak, en siedaar… ons kom veilig tuis met die regte bus.

Dis regte pannekoek weer… en as ek nie so lui was nie sou ek gebak het….